Wie is Ons

Gesels

Ons glo dat mense in God se beeld geskep is. Dit beteken dat ons iets van Hom beleef wanneer ons in mekaar se teenwoordigheid is. Daarom moedig ons lidmate aan om betrokke te raak by groepe waar hulle diep, betekenisvolle verhoudings kan vorm. Ons dra mekaar se laste, bely ons sondes teenoor mekaar, bid vir mekaar. Ly saam en vier saam! Dit is in hierdie eerlike, liefdevolle verhoudings waar God ons verander en die waarheid `n werklikheid word. Die weg van Jesus kan nie alleen gestap word nie.

Groei

By Lorraine gemeente is ons volgelinge van Jesus. Dit beteken dat ons, op `n baie praktiese manier, leer hoe om Jesus se opdragte uit te voer en toe te pas in ons lewe dag tot dag. Ons word gereeld hierdeur uitgedaag, omdat Jesus geleer het dat sy volgelinge hulle vyande moet liefhê, dié vergewe wie hulle seermaak, nie oordeel nie asook vrygewig wees met hulle besittings. Ons wil ontdek wat dit behels om `n dissipel te wees, of dit nou is deur kursusse, preke of tussen vriende. Hier leef ons met die verwagting dat Jesus lewens verander.

Gaan

Ons glo dat God as Jesus aarde toe gekom het en dat Hy daarna aan sy kerk die opdrag gegee het om sy sigbare teenwoordigheid te wees. Gelei deur die Gees van God is ons passievol daaroor om die transformerende boodskap van die opgestane Jesus uit te leef deur uit te gaan en genesing te bring in `n gebroke wêreld. Jesus Christus roep sy kerk om sy aangrypende soort liefde bekend te maak deur op te offer, te dien en om te gee oor die dinge waaroor God omgee. Ons is geskep om vir iets groter as onsself te leef.

Betekenis van die embleem

Ons aanbid God Drie-enig. Die sirkel verteenwoordig God die Vader se teenwoordheid. Die kruis herinner ons aan Jesus se verlossing. Die vlam is die Heilige Gees. Daarmee saam staan die Bybel sentraal in ons prediking en word daarom as deel van die kruis uitgebeeld.